Send

Remember Me?
Forgot your password?
Don't have an account?Register now


 

Boere moet hulle staal vir minimum loon

Sunday, February 19, 2017


Agri Oos-Kaap het ’n beroep op droogtegeteisterde boere gedoen om hul geldsake in orde te kry en solank te staal vir die verwagte impak van die nuwe nasionale minimum loon.

Volgens Douglas Stern, president van Agri Oos-Kaap, het sy organisasie ’n aantal bekommernisse, insluitend die moontlike uitdiensstelling van werkers, oor die R20/uur-loon wat pres. Jacob Zuma verlede week in sy staatsrede aangekondig het. Dit sal op 1 Mei 2018 in werking tree.

“Landbou is die grootste indiensnemer van ongeskoolde arbeid in die land, maar ongelukkig word ons nie beloon met ’n toename in produksie met elke loonverhoging nie. Die koste van die verhoging sal nie na verbruikers oorgedra word nie.

“As primêre produsente is ons prysnemers en nie prysvasstellers nie. Ons absorbeer alle bykomende verhogings en kan dit nie aan die verbruiker oordra nie,” sê Stern.

“As boere wil ons volhoubare werk skep in die landbousektor, wat reeds in die Oos-Kaap erg ly onder die voortslepende droogte.

“Baie boere sal nie die koste van twee loonverhogings alleen kan absorbeer om in 2018 by die voorgeskrewe bedrag uit te kom nie,” sê hy.

Hy sê sukkelende boere het net drie opsies. Die eerste is om by die departement van arbeid aansoek te doen om ’n hernubare 12 maand-vrystelling; om werkers te besnoei; of onproduktiewe werkers af te betaal.

Slegs Cosatu het nie die ooreenkoms tussen ondernemings, arbeid en die nasionale regering onderteken nie, maar die landboubedryf het onder meer beding dat die nuwe minimum loon oor ’n tydperk van twee jaar ingefaseer kan word.

“Boere het ’n jaar om hul geldsake te hersien. As ons dit nie in 2018 kan absorbeer nie, sal ons na alternatiewe moet kyk. Hopelik is die droogte teen daardie tyd gebreek,” sê Stern.

Volgens Stern is die grootste getal lede van Agri Oos-Kaap veeboere wat nie groot getalle werkers in diens het nie. “Die sitrusbedryf, waar swaar gesteun word op permanente en seisoenale werkers, sal die ergste geraak word.”